24 uur in Munchen 48 uur in Wene

FOTOS: BMW AG en Rupert Steiner | WOORDE: Michelle Coburn


München en Wene, per vliegtuig skaars ’n uur uitmekaar, het veel meer gemeen as net taal. Al twee is ook aan die voorpunt as dit kom by die dialoog tussen tradisie en innovering in argitektuur, kuns en ontwerp. Michelle Coburn het dit eerstehands ervaar op die 2009 BMW Suid-Afrika Eurostyle-toer.

Ek verlaat die stilte van die St. Stephanskatedraal en stap met die reuk van soet wierook wat nog in my hare kleef, uit op Stephansplatz. Dis skemer, en terwyl ek nog dink waar ek nou lebkuchen en Weense koffi e gaan kry, stap ’n man in ’n spanbroek, ’n rooi-en-goud-oorjas en ’n hoed met ’n swierige tossel nader: “Kom luister om agtuur by kerslig na Mozart se Requiem,” sê hy en stop my ’n pamfl et in die hand. Dis moeilik om jou ’n beter plek voor te stel om dié Oostenrykse komponis se laaste werk te hoor as dié Gotiese baken… maar musiek (en soetgoed) is vinnig vergete wanneer ek die ongeloofl ike skouspel op die plein hier in die hartjie van die Oostenrykse hoofstad aanskou.

Voor my weerkaats die katedraal se mosaïekdak en hemelhoë toring in die vrydraende glasfasade van Haas Haus, ontwerp deur Hans Hollein, een van Europa se voorste argitekte. Op eg Weense wyse was die bouwerk binne die grense van die Innere Stadt – ’n Unesco-wêrelderfenisterrein – ’n omstrede storie. Maar toe die stof eers gaan lê in die media, het dit gou net nog ’n bron van argitektoniese trots geword.

Dis blykbaar maar hoe dit gaan in dié stad met sy art nouveau-, postmoderne en barokgeboue: Oud en nuut bots al van die dae van die Weense Afstigting, wat aan die einde van die 19de eeu gelei is deur kunstenaars en argitekte as ’n reaksie op die streng historisisme. (Onder hulle was Gustav Klimt en Otto Wagner.) ’n Vurige debat is die onafwendbare resultaat. Maar ook volgehoue vernuwing.

Ja, die Weners het baie om te bespreek, want daar is soveel keuses. By die würstel-stalletjie net om die draai van die katedraal tree die plaaslike mense in stylvolle klere aan by die staantafeltjies om daai gaatjie voor aandete te vul. Op die spyskaart is bratwurst en ’n hele rits ander kos, maar ’n man in ’n voorskoot vol oliespatsels sal ook vir jou iets uit Tsjeggië, Hongarye of Bosnië aanbied – ’n ware internasionale spyskaart wat die stad se multikulturele aard weerspieël, voorgesit met mosterd of, indien jy verkies, ’n lang bier. Besluite, besluite…

Hulle gedempte gesprekke klink ernstig, maar my Duits is te verroes om dit behoorlik te verstaan. Dalk bespreek hulle die volgende belangrike kwessie waaroor die stad moet stem: Watter kleur moet hulle in 2010 kies vir die somerlêstoele in die binnehof van die Museums- Quartier? Een jaar beige, dan geel… dalk is dit nou tyd vir rooi?

Of hulle is waarskynlik besig met ’n debat oor die voortslepende omstredenheid wat tot helaas nóg ’n petisie gelei het: die kwessie van die Kontemporêre Kunstoring (CAT). Die doel van die CATprojek, aangevuur deur kragtige stemme op Wene se kreatiewe toneel en ondersteun deur mense soos Wolf D. Prix van die Weens gebaseerde argiteksfi rma Coop Himmelb(l)au, is om ’n aaneengegote lugafweertoring uit die Tweede Wêreldoorlog te omskep in ’n werken tentoonstellingsruimte vir internasionale kunstenaars. Die voorstel sluit in ruimtelike ingrypings en eksperimentele argitektuur, asook ’n 21ste eeuse versameling wat uniek is aan die stad. Sommige Weners is gaande oor die gedagte; ander verafsku dit. Elkeen het ’n mening.

’n Kombinasie van klassieke en kontemporêre 

Dié kreatiewe energie is een van die eienskappe wat die Amerikaanse kunstenaar Lisa Ruyter hierheen gelok het. Op ’n besoek aan haar ateljee in Kantgasse kom jy af op hoë mure waarop sterk grafi ese werke-in-wording ten toon gestel word. Die grootte en teatrale gevoel van haar skilderye, geïnspireer deur die stadslewe, is verstommend. Maar waarom sal ’n kunstenaar die Groot Appel verruil vir Sentraal-Europa? “My identiteit word grootliks gedefi nieer deur die perspektief wat ek deur 18 jaar in New York gekry het, maar nou herontdek ek my kernidees deur in ’n veel kleiner stad te woon. ”

’n Kort vlug verder is dieselfde energie wat Lisa en ander internasionale kreatiewe geeste inspireer, ook in München tasbaar. By die ClassiCon-hoofkwartier, waar ’n kombinasie van klassieke en kontemporêre meubels – soos Eileen Gray-ontwerpe – gemaak word, verduidelik Oliver Holy, uitvoerende hoof, die owerheid wou nie instem dat die bekroonde sement-en-staalgebou meer sentraal staan nie. Daarom het die “te moderne” struktuur sy rug op die tipiese sakeparkgeboue rondom hom gedraai. Nou word besoekers begroet deur ’n pakhuishek voordat hulle om die gebou ry na die glasfasade.

Nog ’n Münchense baken is die BMW-museum, reg langs die ineengedraaide matriks van Wolf D. Prix se BMW Welt-voertuigafl eweringsentrum. Dis in 2008 heropen nadat Karl Schwanzer se treffende gebou uit 1973, ook bekend as “die slaaibak”, herontwerp is. In ’n viering van stedelike beweeglikheid gaan besoekers deur die “strate en pleine in een ruimte” op reis deur BMW se geskiedenis, maar kry hulle ook met die GINA Light Visionary Model-konsepmotor ’n blik op die toekoms van motorvervoer.

Die GINA, ontwerp deur die kreatiewe agentskap BMW Group DesignworksUSA (wat ook seiljagte, vliegtuie en leefstylprodukte vir ander groepe ontwerp), is ’n lewende beeldhouwerk waarin die motor se argitektuur sigbaar is deur ’n soomlose materiaaldop wat oop- en toemaak en funksies op versoek wys. Nikolaus van Saurma, direkteur van DesignworksUSA se Münchense ateljee, sê die bedoeling was om bestaande konsepte uit te daag. Hy beskryf die ontwerpfi losofi e as “the emotion of motion”. En voeg dan by: “Die beste manier om die toekoms te voorspel is om dit self te skep.”

Ek dink terug aan die ry swierige 19de eeuse perdekarre met die rooi leersitplekke buite Wene se Hofburgpaleis wat besoekers lok om ’n oomblik van die ou dae te beleef. Die ontwerpers van dié elegante voertuie sou in hulle dag des lewens nie iets soos die GINA kon voorspel nie, net soos die mense wat die Hofburg gebou het, hulle nooit iets soos die BMW Welt of -museum sou kon voorstel nie. As kreatiewe dialoog Wene en München se ontwerpers en argitekte aan die gang hou, sal die toekoms wat hulle skep, opwindend wees – selfs al kan sommige van ons net vlugtig daar ’n draai maak.

www.bmw.com, www.bmw-museum.com  

48 UUR IN WENE

SLAAP: Do&Co Dié hotel in Haas Haus het luukse kamers met ’n uitsig oor Stephansplatz. Die Onyx-kroeg pols ná tienuur saans, en in die restaurant word Oosters geïnspireerde geregte voorgesit. www.doco.com

EET: Vestibül-restaurant by die Burgtheater – as jy min tyd het en moet kies tussen ’n ete en ’n vertoning, moenie aandete by die deftige restaurant, ontwerp deur Luigi Blau, misloop nie. www.vestibuel.at

• Milo Die ongepleisterde mure en gewelfde dak met Turkse teëls maak dit dié plek vir middagete by die MuseumsQuartier. www.azw.at

• Hotel Sacher Bederf jouself met koffi e en fyngebak by die tuiste van die wêreldberoemde sachertorte. www.sacher.com

• Loos America Bar Dié piepklein watergat, wat in 1908 deur Adolf Loos ontwerp is, móét ’n mens net sien. www.loosbar.at

BESOEK: Museum vir Toegepaste Kunste (MAK) Die permanente versameling is te sien in sewe vertrekke wat kunstenaars ontwerp het. Die 20ste-21ste Eeuse Argitekskamer stel modelle ten toon van ontwerpe deur Zaha Hadid en Daniel Libeskind. www.mak.at.

• MuseumsQuartier is ’n multidissiplinêre kuns-en-kultuurdistrik van 60 000 m2 met die Museum vir Moderne Kuns (Mumok) en die Leopold-museum. www.mqw.at, www.mumok.at, www.leopoldmuseum.org

KOOP: Eksklusiewe boetiekwinkels in Graben en Kärtnerstrasse deel die strate met stalletjies wat miniatuur-katedrale en sneeusfere verkoop (die heel eerste een is in 1900 hier gemaak.)

• Die Dorotheum Die wêreld se oudste veilingshuis spesialiseer in antiekware, juweliersware en kontemporêre kuns. Jy kry dalk ’n winskoop wat in jou tas pas…

• Die MAKontwerpwinkel bied ontwerpergeskenke met ’n verskil.