Balkonboer

FOTOS: Marie Viljoen | WOORDE: Johan van Zyl en Marie Viljoen


Op ’n beknopte balkon – 6,13 m2 – in Brooklyn, New York, kweek ’n boeremeisie enigiets van knoffel, tamaties en kruie tot rose en stroopsoet vye. En op haar vermaaklike blog, 66 Square Feet, wat al die New York Times gehaal het, hou sy dagboek van dié kweek- en kulinêre eskapades.

Wat maak ’n slim Suid-Afrikaans gebore operasanger met vlamrooi hare en groen vingers as ’n siekte uit die oude doos – kinkhoes – jou in die jaar 2000 in New York se moltreinstelsel beetkry?

Ná nimmereindigende doktersbesoeke begin jy terugdink aan daai eerste lappie grond agter die voëltjiehok in die agterplaas in Bloemfontein wat jou ma aan jou toevertrou het, daar waar jy jou eerste groen glorie met radyse en pronk-ertjies en ridderspore behaal het. Of die kruietuin met stapblokke wat jy op dertien in die New Forest in Engeland gesien het en toe in jou ma se tuin in Constantia in die Kaap herskep het. Jy onthou ook skielik “die mooiste ding ooit” in die huis van een van jou ma se vriendinne, Marita Swanepoel: ’n tuinplan.

Wat maak jy dus? Jy hoes en proes tot by die Chelsea Garden Center, destyds een van net twee kwekerye in Manhattan (en boonop in ’n ietwat bedenklike buurt) en begin jou brood en botter verdien as verkoopspersoon wat saam met die Noord-Amerikaanse plante wat jy nou leer ken, ook ontwerpwenke uitdeel. Jy leer gou van tuinmaak op dakke en balkonne – die enigste plek wat New Yorkers tot hulle beskikking het – en voor jy jou oë kan uitvee, is jy die ontwerphoof van Holly, Wood and Vine, die ander kwekery op die eiland, waar jy lushowe van 37 m2 tot 280 m2 vir kliënte ontwerp, tuinmaakspanne aanvoer, begrotings opstel, die webwerf behartig en op televisieprogramme verskyn.

Tien jaar ná die kinkhoes-episode kuier Marie Viljoen en haar Kanadese geliefde, die Franse fotograaf Vincent Mounier, by haar ouers in Kaapstad. Sy noem haarself ’n kompulsiewe dokumenteerder, haar digitale kamera deesdae altyd byderhand om “alles in die omgewing wat mooi is of my goed laat voel” vas te lê en ’n “hoogs geredigeerde weergawe” daarvan uit te speel op haar blog, 66 Square Feet.“

’n Vriend van my het ’n blog gehad, maar ek was nie gemaklik daarmee om my persoonlike lewe so uit te blerts nie. Toe begin ek maar ’n blog vir my kat, Estorbo (“obstruksie” in Spaans), en skryf alles in sy swaar Dominikaanse aksent. Ek het agtergekom ek skryf gedurig vir my ma of vriende oor die goed wat ek sien, wat ek geplant het, watter plant gevrek het, wat ek gekook het. Toe besluit ek om ’n dagboek van my tuin en kosmakery te hou. Ek was nog altyd lief vir skryf, om goed met mense te deel, en met ’n blog is daar elke dag gratification: Hier is dit, dis dadelik gepubliseer en mense kan daarop reageer.”

Aan die begin het sowat 30 mense by www.66squarefeet.blogspot.com ’n draai gemaak, later was daar 70 en toe die New York Times daaroor berig, het dit opgeskiet tot 1 500 mense van wie sy verreweg die meeste glad nie ken nie. Dis ook hoe sy vir Vincent ontmoet het. Ná ’n navraag aan hom oor iets heeltemal anders het hulle mekaar se blogs begin lees, kommentaar gelewer op die inskrywings en “ ’n week later oorgegaan tot iets baie meer intiems: ’n e-pos”. Nog e-posse van “Jane Austenagtige dimensies” het gevolg en twee maande later was Vince in New York en het die twee besef dat hulle werklik dieselfde waardes het en die wêreld op dieselfde manier benader.

Albei het in die algemeen min ooghare vir modegiere, sê Marie, “omdat mense nie regtig daaroor dink nie”.

“In Brooklyn wil almal nou boere wees, groente kweek, hoenders hê en meer volhoubaar en plaaslik leef. Dis ’n fantastiese mode, veral in ’n massiewe betonmassa soos New York, maar dit lei ook tot ’n nuwe soort snobisme. Die restaurant op die hoek spog die tamaties op die spyskaart is op ’n dak laer af in die straat gekweek, maar dan verkoop hulle dit teen ’n plaas se prys!

“Ek kan nie myself onderhou met die tamaties wat ek op my balkon kweek nie, maar ek is meer bewus van hoe ’n tamatie ’n tamatie word, hoe dit in die supermark beland, hoeveel water dit moet kry, waar die water vandaan kom. Ek is deel van die groter kring. En dis die belangrikste.”

www.66squarefeet.blogspot.com, www.estorboloco.blogspot.com, marieyviljoen@gmail.com