Kuns Kolonie

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Johan van Zyl


Die onherbergsame Richtersveldse kus het sy arms wyd oopgegooi vir ‘n merkwaardige ontwikkeling wat die dorre werelderfenisgebied naatloos saamsnoer met die argitektuur, landskapkuns en die plaaslike gemeenskap. 

In skel sonlig lyk party van die ou opslaanhuisies bra blouboordjie en bedremmeld, maar as die malmokkie – ’n digte misbank wat dikwels daglank die dorp lawe – soggens oor die Atlantiese Oseaan instoot, kry die vissermanne en diamantdelwers se stories stertjies, houtpondokkies word paleise en op mure slaan die name van die dorpsbewoners in mirakelagtige mosaïekskrif uit…

Dis juis dié koel dynserigheid – selfs in die hoogsomer – waarop Jimmy en Annelize du Toit, ’n prokureur en wiskundige statistikus, in 1991 hulle hart verloor het. Slim sakemense, dié twee, want in die 18 jaar sedertdien het hulle ál meer plaaslik betrokke geraak, erwe gekoop en geleenthede raakgesien wat uiteindelik gelei het tot hulle KaiKai-woonhuisontwikkeling net buite die dorp.

Dié vakansie slaap hulle en hulle twee kinders, Louietta en Jacques, die eerste keer nié in hulle ou opslaanhuisie nie, maar in die nuwe strandfrontwoning met sy gefragmenteerde daklyn wat deur die argitek Chris Wilkinson ontwerp en onder leiding van Piet Malgas gebou is. Tot onlangs het dié kontemporêre strandhuis met sy uitsig oor McDougallsbaai as KaiKai-skouhuis gedien, maar noudat alles so te sê perfek is, jeuk die Du Toits om self in trek.

KaiKai – die Nama-woord vir “grootmaak, met lof ophef of met trots vertroetel” – is nie een van daardie smaaklose, steriele ontwikkelings wat die afgelope dekade of wat soveel afbreuk aan die Suid-Afrikaanse kus gedoen het nie. Jimmy se agtergrond, persoonlikheid en belangstellings is eenvoudig te eksentriek dat ’n mens hom in dieselfde lig kan beskou as ’n tradisionele eiendomsontwikkelaar. “Ontwikkelaars voer gewoonlik kundiges in, want die werk moet so vinnig as moontlik klaarkom,” sê hy en vertel van die vennootskap wat hy in 2000 met die Richtersveld-munisipaliteit gesluit het. Rotsvaste riglyne is vir die ontwikkeling van die 150 erwe neergelê: Die dorp en plaaslike gemeenskap móét voordeel trek uit die projek, en al die moontlike moet gedoen word om plaaslike materiaal en kundigheid te gebruik.

“Ek stel nie in werkskepping belang nie,” sê Jimmy. “Ek doen nie jobs nie, ek doen careers. Volhoubare loopbane. Van die meer as 60 mense wat hier werk, is talle by KaiKai opgelei as gewone of klipmesselaars, mosaïekkunstenaars of bouers, en almal weet hulle is vir minstens vyf, tien jaar verseker van werk. Hulle moet volkome selfstandig kan werk as hulle die dag hier uitstap, en met die beste ter wêreld kan meeding. Die mosaïekspan, byvoorbeeld, staan deesdae onder leiding van Unathi Mfi hlo, een van die heel eerste locals wat hier opgelei is.”

Mosaïekkuns op groot skaal

Wat KaiKai nóg meer eiesoortig maak, is die doelbewuste poging om die ontwikkeling vir die publiek aantreklik te maak, onder meer deur mosaïekkuns op groot skaal – nie net in en om die huise nie, maar ook op die Gaudi-geïnspireerde Wall of Expression, ’n “grensverskuiwende” grensmuur wat uiteindelik die hele ontwikkeling sal omring (sonder om dit van die res van die gemeenskap af te sny). Drie stukke van die muur waarop die plaaslike inwoners aan hulle daaglikse werklikhede en drome gestalte gee, is reeds voltooi. Ook ’n stuk of 1 500 van die beplande 12 000 name van inwoners is reeds op die muur uitgespel.

“Jimmy het ’n ding oor kuns,” sê Annelize. “Dis ’n streep wat van sy ouma, Hetta Myburgh, se kant af kom. Sy was nogal artsy; het gerook, langbroek gedra, klere ontwerp en klavierlesse gegee. Jimmy se ma skilder, teken en doen fantastiese blommerangskikkings,” lag sy.

Jimmy het byvoorbeeld self die kelpwoud-motief (van kwartsiet uit Steinkopf) in die gastebadkamer en in die en suite-badkamer van die hoofslaapkamer ontwerp, en so ook die rooi mosaïek-uitspansel in die kombuis, ’n abstrahering van die rugvinne van die verskillende eetbare visspesies wat in die waters rondom Port Nolloth voorkom. Die ongewone rooi teëls is spesiaal vir die ontwikkeling deur Studio Del Mei in Pretoria ontwerp en KaiKai Red gedoop.

In die leefkamer staan nog drie van Jimmy se skeppings: ’n sitbankie, en agter dit ’n boekrak van dik houtbalke en papierdun staal en ’n muurpaneellig wat Jimmy as “driedimensionele interpretasies van abstrakte Piet Mondrian-skilderye” beskryf. “Maar alles moet nog ingeburger word. Die bankie moet vir ’n paar dae in die seewater gaan staan en ek wil vir die boekrak boeke in primêre kleure laat maak. Daai boekrak is bliksems swaar; twaalf ouens gaan nodig wees om dit op ’n lorrie te tel. Dan gaan ons dit na Farquharson se Kop toe vat, die boeke inpak en dit vir twee of drie dae daar in die veld ten toon stel. Die koppie is die tuiste van ’n baie skaars vetplantjie en met die landskapinstallasie wil ek die aandag op daai plantjie vestig.”

“Tipies Jimmy,” sê Annelize toe ek haar later oor sy plan met die boekrak pols. “Port Nolloth is nie Plet of Umhlanga nie. Hy, ons, hou daarvan om goed op hulle kop te keer, selfs die idée van wat ’n strandhuis is en hoe ’n strandhuis moet lyk.”

Op die strand voor die huis begin die gety inkom en lek aan die mosaïekbakstene wat die span vroeër die dag uitgepak het. ’n Entjie die water in gooi ’n bootjie sy net uit vir harders; nog dieper in slurp dik stofsuierpype oor die kant van ’n diamantboot gruis van die oseaanbodem op. ’n Endemiese vensterplantjie drink sonlig in. De Winton se goue mol los ’n streep op ’n duin. Dis maar hoe dit gaan op ’n Saterdagmiddag aan die Richtersveldkus.

• KaiKai 011 789 1735, 082 894 6638 (Jimmy du Toit), www.kaikai.co.za

• Comrie+Wilkinson Architects and Urban Designers 012 440 5973, www.comwilk.co.za