SA ontwerpe neem Helsinki op horings

WOORDE & FOTO’S Lianne Burton


Lees in Engels.

Laduma Ngxokolo wat ’n buiging maak langs Le Corbusier in Europa? Suid-Afrikaanse ontwerp is inderdaad een van die groot attraksies by ’n tentoonstelling wat vandeesweek in Helsinki, Finland – die Wêreldontwerphoofstad vir 2012 – geopen het.

Die internasionale Design House-tentoonstelling Everyday Discoveries is een van die hoofprojekte op die program van die Wêreldontwerphoofstad vir 2012 en word aangebied in Kattilahalli, die ou kragstasie van die Finse hoofstad, en loop oor in ’n vraghouerdorpie in die buitelug en ’n stadstuin-installasie in die omliggende Suvilahti. Die tentoonstelling dien as toonvenster vir die beste ontwerp-idees uit 23 lande, met meer as 100 ontwerpers wat betrokke is.

Suid-Afrikaanse ontwerpe het ’n prominente plek in die hooftentoonstelling, wat in ses temas verdeel is: ikoon, innovasie, onsigbaar, herinterpretasie, verbeelding en samekoms.

Die opwindende jong Oos-Kaapse breidrag-ontwerper Laduma Ngxokolo se Xhosa-geïnspireerde truie deel die “ikoon”-kategorie met enigiets van Le Corbusier se chaise-lounge tot Rubik se kubus. Die Hippo Water Roller word ten toon gestel in die “innovasie”-kategorie saam met hipertegnologiese ontwerpe soos ’n toilet wat afval outomaties in kompos verander en water herwin, terwyl ’n installasie van Dolos-breekwaterblokke die “onsigbaar”-kategorie deel met items soos energiedoeltreffende gloeilampe en Italië se klassieke mokkapot-koffiemaker.

De Waalpark, een van Kaapstad se hondeparadyse, maak sy opwagting in die “verbeelding”-afdeling deur middel van die kinderboek en innoverende iPad-app Bonsai and Geronimo Go To The Park. In die “herinterpretasie”-tentoonstelling pronk ’n elegante keramiekhouer deur Andile Dyalvane van Imiso Ceramics wat Xhosa-krapmerke as inspirasie gebruik: Die beenkleurige keramiekvlees is oortrek met diep rooi merke.

Die hooftentoonstelling is ingerig rondom ’n indrukwekkende eetkamertafel wat 20 mlank is en waar al die lande byeenkom – vandaar die titel “samekoms”. Hier word Haldane Martin se Zulu Mama-stoel ten toon gestel saam met die Kaapstadse kermaiekkunstenaar Louise Gelderblom se massiewe etsborde en 100% herwinde glasware van Ngwenya Glass, wat deur Trevyn McGowan van Source en die sjef Reuben Riffel ontwerp is.

Die internasionale Design House-tentoonstelling Everyday Discoveries is nog tot 16 September 2012 te sien en vorm deel van die Helsinki-ontwerpweek wat na verwagting tienduisende besoekers en mediamense van reg oor die wêreld sal lok.

Die storie het oorspronklik op die webwerf van die Cape Town World Design Capital 2014 verskyn. Maak soos ons en “Like” hulle Facebook-blad of volg hulle op Twitter!