PHOTOS: Mark Serra | PRODUCTION: Sumien Brink | WORDS: Alma Viviers
Byna 17 jaar gelede is Peter Falke, medeeienaar van die toerustinggroep Falke KGaA, en sy wederhelfte, Danièle Görtz, deur die Suid-Afrikaanse gogga gebyt. Toe kom omskep hulle ’n wynplaas in ’n toonbeeld van hulle unieke styl.
Tradisionele Kaaps-Hollandse gewelgeboue in wit en groen, afgeëts teen die agtergrond van imposante berge en geil wingerde, is ’n bekende gesig in die Kaapse wynland. Tog sien ’n mens in die statige ou opstal en buitegeboue van die plaas Groenvlei, wat van die negentiende eeu dateer, ’n bykans weersprekende moderne element.
Die interieur van die sjiek opstal en proelokaal– ’n plek waar Duitse presisie met Franse flair vermeng word – is ’n ware weerspieëling van die eienaars, Peter Falke en sy lewensmaat Danièle Görtz.
Peter, wat sedert 1969 in Suid-Afrika sake doen, het altyd voor sy geestesoog sy eie plek in die mooiste Kaap gesien, maar nie in sy wildste drome sou hy ’n wynplaas besit nie. “Ek het gehoor dié plaas buite Stellenbosch is op die mark en moes toe binne twee dae ’n besluit neem voordat ek Duitsland toe sou vertrek,” onthou hy. Teen die tyd dat Peter op die vliegtuig geklim het, was die transaksie beklink – dit was ’n kwessie van geluk en goeie tydsberekening.
Nadat die eiendom die afgelope twee dekades ’n hele paar eienaars gehad het, het die opstal dringend aandag nodig gehad – die ideale geleentheid vir Danièle, met haar wye agtergrond in mode- en binnehuisontwerp, om haar kreatiewe talente vrye teuels te gee.
Hulle moes die dak regmaak, die huis herbedraad en die loodgieterswerk vervang. Die kombuis is “oopgemaak” sodat meer natuurlike lig binnestroom, en terselfdertyd loop dit uit op ’n ontbytpatio onder ’n oeroue eikeboom.
Frans en Suid-Afrikaans vermeng
Die groot ruimtes van die opstal getuig van Danièle se Franse erfenis, wat vermeng word met vondste van ons eie kuslyn. Sy het die enorme tuin vol rose, laventel en agapante geplant. “’n Mens sien haar stempel op alles,” koer Peter.
Hy en Danièle het ’n huis in Frankryk, Duitsland en Suid-Afrika en pendel tussen die drie lande. En met ’n seun en kleinkinders in Seattle, ’n dogter in New York en nog een in Milaan, het die plaas dié plek geword waar die familie byeenkom.
Tog is dit meer as ’n vakansiehuis: Nadat Groenvlei tot in 2003 cabernet sauvignon- en cabernet francdruiwe aan ander wynmakerye verskaf het, het Peter besluit dis tyd om ’n slag sy eie wyn te maak. “Ons wou met wyn vorendag kom wat ons graag self drink,” sê hy. “Al is ek ’n Duitser wat graag ’n biertjie geniet, is ek mal oor wyn, veral die ligte soorte.”
Omdat Peter ’n volslae groentjie was, het hy by die gesoute wynmakers Jannie Engelbrecht en Kevin Arnold, ook vriende van hom, om hulp gaan aanklop om die eerste Peter Falke-wyn te produseer. Dit is in 2008 bekend gestel.
Vandag is Tertius Naudé aan die stuur van sake en hy produseer twee reekse vir die etiket: die maklik drinkbare PF-reeks (Peter se gunsteling) en die Peter Falke-spesialiteitsreeks.
Peter en Danièle voel al twee hulle wil graag dít wat hulle geskep het met ander mense deel, en dit het hulle geïnspireer om ’n elegante proelokaal op die plaas oop te maak.
Hier het Danièle weer eens haar filosofie van “ontwerp met die ses sintuie” ingespan. Die resultaat is ’n proelokaal wat eenvoudig ’n fees vir die sintuie is: Spatsels rooi trek die oog, terwyl jou hande verlei word deur gladde hout, chroom en kurk-inlegwerk. Die smaakknoppies kry heerlike wyne, en vir die neus verskyn geure van die roos en laventel op die bries uit die tuin.
• Peter Falke Wines: 021 881 3677, www.peterfalkewines.com

